Spele van die XXXIe Olimpiade | ||||||||||||||||||||||||
|
Die Olimpiese Somerspele 2016 (Portugees: Jogos Olímpicos de Verão de 2016 [ˈʒɔɡuz oˈlĩpikus dʒi veˈɾɐ̃w dʒi ˈdojz ˈmiw i dʒizeˈsejs]), amptelik bekend as die Spele van die XXXIste Olimpiade, is tussen 5 en 21 Augustus 2016 in Rio de Janeiro, Brasilië, aangebied. Tydens die geleentheid het 11 238 atlete uit 205 nasies aan 306 items in 28 verskillende sportsoorte deelgeneem. Die spanne van Kosovo en Suid-Soedan het vir die eerste keer aan Olimpiese Spele deelgeneem.[4]
Dit was die 31ste aanbieding van die Somerspele sedert 1896. Dit was ook die eerste keer dat Rio de Janeiro, Brasilië en 'n Portugeestalige land die spele organiseer het, die eerste Somerspele in Suid-Amerika, die tweede keer in 'n Latyns-Amerikaanse stad ná Meksikostad in 1968 en die eerste keer sedert 2000 (en derde algeheel) in die Suidelike Halfrond.[5] Naas Rio de Janeiro was Madrid, Tokio en Chicago kandidate vir die organisasie van die 2016-Somerspele.
Die opening- en sluitingseremonies het in die Maracanã-stadion plaasgevind. Soos gebruiklik het die lande in alfabetiese volgorde die stadion ingestap met Griekeland die eerste en die gasheer Brasilië die laaste, maar aangesien die plaaslike taal Portugees is, is dié taal se alfabet gebruik om die volgorde te bepaal. Wayde van Niekerk, die naelloper wat in die 200 meter en 400 meter meeding, het die Suid-Afrikaanse vlag ingedra.[6]
Die Paralimpiese Somerspele 2016 is tussen 7 en 18 September in Rio de Janeiro gehou.